AFRIKANERMAN
Afrikanerman — Vasgevang Tussen Onthou en Herontdek deur Dr Mart Mariè Uys is die eerste wetenskaplike ondersoek na die sielkundige toestand van Afrikanermans tussen 50 en 70 jaar oud in postapartheid-Suid-Afrika.
Gebaseer op 300 vraelyste wat elk 88 vrae bevat het, en 300 stemopnames wat oor al nege provinsies deur Markdata — ’n SAMRA-geakkrediteerde navorsingsmaatskappy — versamel is, bied hierdie boek empiriese bewys van wat Afrikanermans werklik dink, voel en met hulle saamdra.
Hierdie boek is nie ’n treurmare nie. Dit is ook nie ’n poging om ’n spesifieke groep weer op ’n troon te plaas of bo ander te stel nie. Dit is nie ’n morele kruistog, ’n klagskrif of ’n verskoning nie. Dit is ’n produk van navorsing. Dit is gebaseer op data wat met sorg versamel is. Die inligting is versigtig verwerk en ondersteun deur bestaande teorieë wat wêreldwyd in die sielkunde erken word.
Die mense wat aan die navorsing deelgeneem het, het eerlik geantwoord — nie op grond van hul politieke oortuigings of uit verwarring nie. Hulle het geantwoord omdat iemand geluister het. Omdat hulle gevra is om te praat sonder oordeel of ’n poging om hulle te verander. Net om verstaan te word.